Quantcast
Channel: Vleisgeregte | Maroela Media
Viewing all 162 articles
Browse latest View live

Resep: Afval op die tafel

$
0
0
Foto: Woestynkombuis

Foto: Woestynkombuis

Afval is so eg Suidwes soos kan kom. As kind was dit absolute fynkos en afval is selfs met groot trots vir Kersete bedien. Ek was altyd gefassineer deur die bediendes wat ure sit en afval skoon skraap en hoe die pens, pootjies en hele gedoente dan vir ure op die koolstoof gekook is totdat dit van die been af val.

My gunsteling was die skaaptongetjie en wangetjies, maar my sus het baklei vir die oë. My ma het altyd die harsings in die kleinpensie toegebind sodat dit saam met die oë, pens, tong en pootjies in die afvalpot kan prut. Die een op wie se bord dit beland het, was baie gelukkig. Dit was murgsag en het soos botter in jou mond gesmelt!

Om die pens sag te kry, word dit eers vir ‘n halfuur tot ‘n uur lank in ‘n pot gekook (hierdie proses word afwater genoem). Daarna word dit saam met die res van die afval stadig gekook vir ongeveer 5 tot 6 uur. Hier volg ‘n paar heerlike stap-vir-stap-resepte wat die proses duidelik uiteensit vir die beginner-kokke wat ‘n kans wil waag.

Die bees- en skaappote word baie fyn gekook totdat die sagte vleisies van die been af val. Daarby word sout, peper, naeltjies en lourierblare gegooi en dan word dit gemaal. Dit word dan in ‘n bak gegooi sodat dit kan stol, waarna dit in stukke gesny en as sult voorgesit word. Sult is ook ‘n groot bederf en kan alleen voorgesit word as ʼn versnapering saam met souttert en ander happies.

Genoeg vir 8 tot 10 mense

Bestanddele:

  • 1 beestong
  • 1 e asyn
  • 1 skaapafval
  • 3 1/2 e witwyn
  • sout en peper na smaak
  • 1 groot ui, dun gesny
  • 2 groot aartappels, in dun skyfies gesny
  • 4 wortels, dun gesny
  • 1 1/2 e kerriepoeier
  • 1 1/2 e borrie
  • 3 1/2 e suiker
  • 3 1/2 e witwynasyn

 Metode:

  1. Kook die tong vir ‘n uur in water met ‘n eetlepel asyn.
  2. Sodra die tong afgekoel het, trek die vel versigtig af en sny dit in skywe.
  3. Was die skaappens en -pootjies deeglik.
  4. Sny die pens in stukkies van 25 mm.
  5. Voeg die water by (net genoeg om die pens te bedek) en kook oornag in ‘n prutpot oor lae hitte.
  6. Voeg die pootjies, wyn, sout en peper die volgende oggend by.
  7. Prut stadig vir sowat 6 ure in ‘n prutpot totdat die pens en pootjies sag en gelatienagtig is.
  8. Voeg die uie, aartappels en wortels 1 uur voordat die 6 ure verstreke is by die afval.
  9. Meng die kerriepoeier, borrie, suiker, sout en asyn saam en voeg by die afval.
  10. Prut vir ‘n verdere 40 tot 45 minute.
  11. Voeg die tong by die afval en dien op.

Bron: Woestyn Kombuis saamgestel deur Louise van der Hoven
Uitgewer: Fox and Raven home


Resep: Vinnige hoenderkerrie

$
0
0
Foto: Lekker en Vinnig

Foto: Lekker en Vinnig

(Uit: rooi rose Versamelresepte, Vicky de Beer)

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  •  75 g (125 ml) koekmeel
  • 15 ml masala
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 1 kg hoenderborsfilette, in repies of blokkies gesny
  • 30 ml olyfolie
  • 2 groot uie, in dun skywe gesny
  • 10 ml komynsaad
  • 10 ml vinkelsaad
  • 1 lourierblaar
  • 400 g (1 blik) heel tamaties
  • 10 ml masala
  • 5 ml borrie
  • 1 knoffelhuisie, gekneus en fyn gekap
  • 2 groen brandrissies, fyn gekap
  • 500 ml gewone jogurt
  • vars koljanderblare vir opdiening
  • 5 ml garam masala

Metode:

  1. Meng die meel met die 15 ml masala en geur met sout en peper.
  2. Rol die hoender in die meelmengsel en skud oortollige meel af.
  3. Verhit die olie in ’n middelslagpan en verbruin die hoender daarin. Haal uit.
  4. Soteer die uie in dieselfde pan tot sag en voeg die komyn, vinkel en lourierblaar by.
  5. Kap die tamaties fyn en voeg by die uiemengsel. Voeg die 10 ml masala, borrie, knoffel en brandrissie by.
  6. Voeg die hoender by. Prut nog 15 minute tot die hoender sag is.
  7. Gooi die jogurt en koljanderblare net voor opdiening oor. Sprinkel die garam masala bo-oor. Moenie die mengsel laat kook nie, want die jogurt sal skif.

Bron: Lekker en Vinnig: Kerries
Uitgewer: Lapa

Resep: Hoenderlewer met paprika

$
0
0
Foto: Tannie Poppie kook

Foto: Tannie Poppie kook

Hoenderlewers met skop!
Lewer 4 porsies.

Bestanddele:

  • 1 houer (500 g) hoenderlewer, ontdooi en skoongemaak
  • 15 ml botter of margarien, gesmelt
  • ’n knippie sout
  • gemaalde peper na smaak

Sous

  • 1 ui, grofgekap
  • 5 ml fyngekapte knoffel
  • 15 ml botter of margarien
  • 5 ml paprika
  • 2 ml rissiepoeier
  • 2 ml hoenderekstrakpoeier
  • 15 ml tamatiepasta
  • 1 lourierblaar
  • 100 ml droë witwyn
  • 100 ml room
  • 15 ml koekmeel
  • 100 ml water

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C (350 °F).
  2. Meng die lewer, botter of margarien, sout en peper in ’n klein oondvaste bak en bak dit vir 20 minute tot effens bruin.
  3. Braai die uie en knoffel stadig in die botter of margarien tot sag.
  4. Roer die paprika, rissiepoeier, hoenderekstrak, tamatiepasta, lourierblaar en wyn by en laat prut 3 minute lank.
  5. Meng die room, koekmeel en water saam en roer by.
  6. Laat prut tot die sous begin verdik.
  7. Roer die lewer by en laat prut 8-10 minute lank.
  8. Sit voor met plaatkoekies.
  9. Stapel drie plaatkoekies op mekaar met die vulsel tussenin en ’n lekker kaassous bo-oor.

Bron: Tannie Poppie kook
Uitgewer: Human & Rousseau

Resep: Steak met basiliekruidbotter

$
0
0
Foto: Maak Vyf: 1 Bestanddeel = 5 Resepte

Foto: Maak Vyf: 1 Bestanddeel = 5 Resepte

Lewer 4 porsies

Voorbereiding: 30 minute

Van die lekkerste maniere om steak te geniet, is saam met iets heel eenvoudig én geurig wat nie die vleisgeur oorheers nie, maar wel aanvul. Gebruik die gegeurde botter in klein hoeveelhede.

Bestanddele:

  • 125 ml (½ k) sagte botter, in blokkies gesny
  • 75 ml (5 e) olyf- of avokado-olie
  • 60 ml (¼ k) gekapte vars basiliekruidblare
  • 1 knoffelhuisie, gekneus
  • 50 ml gerasperde pecorinokaas
  • 15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil
  • swartpeper
  • 1 x basiese steak

Metode:

Botter

  1. Plaas al die bestanddele, behalwe die swartpeper en steak, in ’n voedselverwerker en meng deeglik. Geur met ’n bietjie swartpeper. Of meng alles met ’n draadklitser en geur met peper.
  2. Plaas die botter op ’n stuk kleefplastiek en rol in ’n wors. Vou toe en plaas in die yskas of vrieskas tot benodig. Indien dit in die yskas was, skep teelepelsvol op die steak. As dit in die vrieskas was, sny in dun skyfies.

Steak

  1. Verhit ’n braai – of roosterpan oor matige hitte.
  2. Geur met min sout, want die botter is reeds sout.
  3. Laat die vleis ’n paar minute rus en sit dan voor met gebakte aartappels in die skil, ’n slaai of groen groente van jou keuse.
  4. Sit voor met teelepelsvol of dun skyfies botter. Bêre die botter wat oorbly in die yskas.

Wenke

  1. Sny ’n Franse brood soos jy gewoonlik ’n knoffelbrood sny.
  2. Smeer botter tussen die snytjies. Rol in aluminiumfoelie toe.
  3. Plaas oor matige kole tot deurwarm.
  4. Smeer basiliekruidbotter ook op tamatietoebroodjies of braaibroodjies.
  5. Die botter is ook lekker saam met groente, pangebraaide vis of hoenderfilette.
  6. Roer die botter deur warm pasta of gebruik dit om eiers mee gaar te maak.

Bron: Maak Vyf: 1 Bestanddeel = 5 Resepte
Uitgewer: Human & Rousseau

[Video] Ideaal vir braaidag

$
0
0
Foto: Skermskoot uit die video

Foto: Skermskoot uit die video

As jy op 24 September gaan braai moet jy beslis na Suzelle DIY se jongste video kyk. Sy het spesiaal ʼn video gemaak met die oog op Erfenisdag (Braaidag) en wys jou ʼn kreatiewe manier om boerewors voor te sit.

Lees alle vorige berigte oor Suzelle DIY op Maroela. Sluit by haar YouTube-kanaal aan. Besoek haar Facebook-blad.

Klik hier om haar aanlynwinkel te besoek.

Resep: Só maak Jan Braai

$
0
0
Foto: braai.com/

Foto: braai.com

Dis eintlik Jan se pa wat hom leer braai het, maar hy meen hy moes ook sy huiswerk doen met die hele braai-gedoente. “Ek het destyds baie opgelees oor kook en die reëls van die kombuis. Ek het nie gaan oplees oor hoe ander ouens braai nie, maar die beste praktyk as dit by die gaarmaak van ʼn biefstuk kom”.

Jan sê ons Suid-Afrikaners is so lief vir braai omdat dit deel is van ons. “Braai is deel van ons DNS – ons voorouers het gebraai. Dis deel van ons gebruike, ons weer is lekker en ons vleis is lekker.”

Vir Jan Braai gaan Braaidag eintlik oor die tyd wat jy saam geliefdes deurbring. “Ek gaan saam met my vriende en familie by die huis braai.”

Jan sê jy het hierdie 5 dinge nodig vir ʼn goeie braai:

  • Genoeg droë hout – houtskool en gas maak nie ʼn lekker vuur nie.
  • Goeie vriende.
  • Sonskynweer. Mens kan in die reën en sneeu braai, maar dis nie ideaal nie.
  • Baie ys – vir jou sap.
  • ʼn Goeie braaitang.

Hy deel ook graag een van sy resepte: Gebraaide Beef Wellington

Bestanddele:

  • 1 ui (fyngekap)
  • 250g sampioene (fyngekap)
  • 1 koppie (250ml) room
  • 1 rol pasteideeg (ontdooi)
  • 300g – 500g biefstuk (rump, sirloin of fillet)
  • kaas (opsioneel)
  • gerookte ham (opsioneel)
  • olyf olie
  • sout & peper

 Metode:

  1. Braai die fyngekapte ui en fyngekapte sampioene in ’n pan saam met olyfolie of botter. Gooi dan van die room of sommer alles by en laat dit afkook totdat dit ’n dik pasta vorm.
  2. Sny alle oortollige vet en senings van die vleis af en braai die biefstuk oor baie warm kole tot medium-rou. Laat die biefstuk ’n paar minute rus en sny dit dan in dun repies.
  3. Rol die pasteideeg uit op ’n snyplank en smeer die sampioen-roommengsel oor die een helfte. Pak die repies biefstuk bo-op en geur behoorlik met sout en peper. Indien jy so voel, kan jy ook kaas en ham bygooi, maar dit is opsioneel.
  4. Vou nou die skoon helfte van die deeg bo-oor en druk die kante van die pastei vas met ’n vurk.
  5. Braai vir omtrent 20 minute oor medium warm kole in ’n toeklaprooster tot gaar. Die gereg is gereed as die deeg goudbruin en bros is en die bestanddele deurwarm en gesmelt is. Wanneer mens pasteideeg braai, ‘smelt’ dit in ’n stadium en begin dit in die rooster insak. Moenie bekommerd wees nie. Net hierna begin dit gaar word en dan raak dit meer ferm.

Besoek gerus Jan Braai se webwerf vir meer resepte.

Resep: Hoender met kweper en heuning

$
0
0
Foto: Winterkos in Provence

Foto: Winterkos in Provence

In die geurige Marokkaanse kookkuns word sarajalo (die Arabiese woord vir kweper) gereeld saam met hoender en ander vleissoorte gebruik. As jy nog nooit met kweper gekook het nie, is hierdie eenvoudige verfransde weergawe van ’n Marokkaanse tagine die ideale resep om mee te begin.

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • 2 e olyfolie
  • 4 groterige stukke hoender
  • 2 groot kwepers, geskil en in stukke gesny
  • 2 t kaneel
  • 2 t neutmuskaat
  • sout en peper
  • 2 e heuning
  • 500 ml warm hoenderaftreksel
  • ’n paar koljanderblare

Metode:

  1. Verhit die oond vooraf tot 180 °C.
  2. Verhit die olyfolie in ’n braaipan (met ’n deksel) wat ook in die oond gebruik kan word en braai die hoender oor matige hitte tot goudbruin.
  3. Haal af van die hitte en skep die hoender uit met ’n gaatjieslepel.
  4. Plaas die kweper in die pan, bestrooi dit met die helfte van die kaneel en neutmuskaat, en voeg sout en peper by. Roer om te meng.
  5. Plaas die hoenderstukke op die kwepers. Strooi die res van die kaneel en neutmuskaat oor.
  6. Los die heuning op in die warm hoenderaftreksel. Skink dit in die pan tot die hoenderstukke en die kwepers goed nat is. (As daar ’n bietjie aftreksel oorbly, hou dit eenkant en skink dit oor indien die hoender te droog word gedurende die gaarmaakproses.)
  7. Maak die braaipan toe en los dit vir sowat ʼn uur in die vooraf verhitte oond. Sodra die hoender gaar is en die kwepers sag maar nie pap nie, haal jy dit uit. As daar te veel sous is, kan jy dit nog ’n paar minute sonder die deksel laat bak.
  8. Snipper koljanderblare oor en sit voor saam met koeskoes of rys.

Bron: Winterkos in Provence – Marita van der Vyver
NB-Uitgewers

Resep: Gevulde beesfilet met pepersous

$
0
0
Foto: Leserskring Spogresepte

Foto: Leserskring Spogresepte

Vicky Swart, Hartbeespoort

Lewer 3-4 porsies

Bestanddele:

Vulsel

  • 125 ml vars broodkrummels
  • 125 ml makadamianeute, gekap
  • 5 ml gekapte vars roosmaryn
  • 37,5 ml knoffelbotter

Beesfilet

  • 1 beesfilet, in dik skywe gesny
  • sout en peper
  • varsgemaalde swartpeper
  • 45 ml botter of margarien
  • 30 ml peperkorrels, gekraak
  • 60 ml brandewyn
  • 200 ml room

Metode:

Om die vulsel te maak:

  1. Meng al die bestanddele saam. Maak ’n snit in elke filetskyf en plaas van die vulsel daarin. Druk effe plat en seëI die opening van elke filetskyf met tandestokkies.
  2. Smeer die res van die vulsel oor die filette en braai dit in ’n warm pan tot bruin aan weerskante. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper na smaak.
  3. Haal die tandestokkies uit die filetskywe. Draai elke filetskyf vinnig apart toe in kleefplastiek en laat eenkant staan. Dit maak die vleis effe gaarder en baie sagter.

Gebruik dan res van die bestanddele só:

  1. Voeg die botter en peperkorrels by die pansappe en roer tot gesmelt.
  2. Giet die brandewyn by om die vet te neutraliseer. Kook dit vinnig tot die vloeistof verdamp.
  3. Voeg die room by en geur na smaak.
  4. Haal die kleefplastiek af en plaas die filette terug In die pan. Prut vir ’n paar minute tot die sous verdik.
  5. Sit voor met oondgeroosterde groente wat met balsemiekasyn bedruip is.

Bron: Leserskring Spogresepte
Uitgewer: Human & Rousseau


Resep: Beskonke Skaapskenkels

$
0
0
Foto: Nina se kombuis

Foto: Nina se kombuis

Dit is nog ʼn gereg wat jy sommer aan die oond se genade kan oorlaat. Saam met heerlike stampmielies met baie botter is dit ʼn koningsmaal!

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

Vir die stampmielies

  • 1 kg stampmielies, deeglik afgespoel
  • water
  • 10 ml sout
  • 125g botter

 Vir die skenkels

  •  6 heel lamskenkels
  • 6 takkies roosmaryn
  • 6 takkies kruisement
  • sout en peper na smaak
  • 100 ml olyfolie
  • 2-3 groot rooi-uie, geskil en fyngekap
  • 2- 3 knoffelhuisies, geskil en in klein repies gesny
  • 30 ml balsemiek-asyn
  • 50 ml heuning
  • 2 lemoene, gewas, gehalveer en pitte verwyder
  • 1 liter lamsaftreksel
  • 340 ml donker bier
  • 200 ml rosyne of sultanas

Metode:

Vir die stampmielies

  1. Voorverhit die warmlaai van die oond tot 80°C. Plaas die stampmielies in ʼn groot oondskottel en gooi geneog water by sodat die watervlak omtrent 2 cm bo die stampmielies is.
  2. Voeg die sout en botter by, sit die deksel op en laat oornag vir ten minste 8 ure in die warmlaai van die oond gaar word.

Vir die skenkels

  1. Voorverhit oond tot 160 ° C. Maak die skenkels mooi skoon en druk droog met handdoekpapier. Maak klein snitte naby die been met ʼn skerp mes en druk ʼn roosmaryn- en kruisementtakkie in elke snit. Geur die skenkels met sout en peper.
  2. Verhit die olie in ʼn pot wat groot genoeg is en braai die skenkels tot goudbruin. Plaas al die bestanddele saam met die skenkels in die pot en sit die deksel op of bedek met foelie. Sit die skenkels vir 2 ½ -3 uur in die oond.
  3. Skep die skenkels dan baie versigtig uit die sous en probeer hulle heel hou, want dit Iyk baie indrukwekkend as jy die skenkels heel voorsit.
  4. Giet nou die oorblywende sous, uie, knoffel en lemoene wat in die pot agterbly in ʼn kleiner pot en maak met ʼn staafmenger fyn.
  5. Kook die sous af tot lekker dik, geur met sout en peper indien nodig en sit die sous voor saam met die skenkels en stampmielies.

Bron: Maklike Maaltye uit Nina se kombuis
Uitgewer: Random House Struik

Resep: Bobotieburgers

$
0
0
Foto: Japtrap Braai

Foto: Japtrap Braai

’n Tradisionele Suid-Afrikaanse gereg heeltemal op sy kop gedraai om dit in ’n burger te verander!

Gasbraai

Ketelbraai direk

Vuur van hout of houtskool

Lewer 12

Bestanddele:

  • 1 dik sny witbrood, korsies afgesny
  • 250 ml (1 k) melk
  • 30 ml (2 e) olyfolie
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 30 ml (2 e) kerriepoeier
  • 1 kg beesmaalvleis
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 10 gedroogde appelkose, in kookwater geweek vir 30 minute
  • 1 ekstragroot eier
  • gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen

Metode:

  1. Week die brood in die melk.
  2. Verhit die olie en soteer die ui daarin tot sag. Voeg die kerriepoeier by en braai verder tot geurig. Verwyder van die hitte.
  3. Plaas die maalvleis in ’n groot mengbak. Meng die ui-en-kerriemengsel daarby in. Geur deeglik met sout en peper. Druk die melk uit die brood met jou hande – behou die melk. Voeg die sagte brood by die maalvleis. Meng deur.
  4. Haal die appelkose uit die water en kap fyn. Voeg dit by die maalvleis. Meng die eier by die behoue melk in en voeg saam met die suurlemoenskil en -sap by die vleismengsel. Meng deur.
  5. Maak jou hande nat en vorm dan 12 burgerpatties uit die maalvleis. Plaas dit op ’n bakplaat en sit dit in die yskas vir sowat 30 minute voordat jy dit braai. Spuit die braairooster met kleefwerende kossproei en braai die patties vir 8-10 minute aan die een kant. Draai dit om en braai vir nog 7 minute aan die ander kant.
  6. Sit voor op broodrolletjies saam met gebraaide uie, skywe tamatie en Mrs Ball’s-blatjang bo-op die burgerpatties.

Bron: Japtrap Braai
Uitgewer: Random House Struik

Resep: Boerewors-sosaties

$
0
0
Foto: Japtrap-Braai

Foto: Japtrap-Braai

Suid-Afrika se gunsteIing-wors maak uitmuntende sosaties – én dis ʼn welkome variasie op die manier wat ons boerewors gewoonlik berei.

Lewer 12

Bestanddele:

  • 750 g boerewors van die beste gehalte
  • 12 houtsosatiestokkies, in water geweek vir 30 minute
  • 1 groot rooi ui, in wiggies gesny
  • 12 kersietamaties
  • 1 rooi, groen of geeI soetrissie, ontpit en in groterige stukke gesny
  • olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper

 Metode:

  1. Gebruik ʼn skerp mes en sny die boerewors in stukke van 3 tot 4 cm lank. Sit ʼn uiwiggie, ʼn stuk boerewors, tamatie, nog ʼn stuk boerewors en ʼn stuk soetrissie op elke sosatiestokkie.
  2. Plaas in ʼn bakpan en smeer olyfolie oor die sosaties. Geur deeglik met sout en peper net voordat jy dit op die rooster sit.
  3. Braai vir 7 tot 10 minute aan elke kant.

Bron: Japtrap Braai
Uitgewer: Random House Struik

Resep: Lamskerrie met klappermelk en vars gemmer

$
0
0
Foto:Lekker en Vinnig: Potjiekos

Foto:Lekker en Vinnig: Potjiekos

(Uit: Braaitreffers deur Hannetjie Joubert)

Lewer 6-7 porsies

Bestanddele:

  • olie vir braai
  • 1 kg lamsvleis, in 3 cm blokkies gesny
  • 2 knoffelhuisies, geskil en gekneus
  • 2 groot uie, gekap
  • 25 ml gerasperde vars gemmer
  • 1 rooi brandrissie, ontpit en fyngekap (opsioneel)
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 5 ml borrie
  • 5 ml kerriepasta
  • 50 ml blatjang
  • 2 ml fyn droë koljander (opsioneel)
  • 250 ml klappermelk
  • 250 ml vleisaftreksel
  • 10 klein aartappels, ongeskil
  • 10 klein wortels, geskil en in skywe gesny
  • 10 groenboontjies, geblansjeer en in stukke gesny
  • 15 ml mielieblom
  • 50 ml gekapte vars koljanderblare

Metode:

  1. Verhit die olie en braai die vleis tot egalig verbruin in ʼn no. 2-driepootpot oor die kole. Verwyder die vleis en hou eenkant.
  2. Soteer die knoffel, uie, gemmer, rissie, sout, peper, borrie en kerriepasta en voeg die vleis by.
  3. Voeg die blatjang, koljander, klappermelk en aftreksel by en laat prut 1 uur lank.
  4. Voeg die aartappels by en laat prut vir nog 30 minute lank.
  5. Voeg die wortels by en laat prut tot die vleis en groente sag is.
  6. Voeg die boontjies by en verdik die sous met mielieblom.
  7. Roer die vars koljanderblare in en sit voor.

Resep: Beesfilet met geroosterde knoffelroom en beet-en-lemoen-slaai

$
0
0
Foto: Jou beste lewe

Foto: Jou beste lewe

Beet kan nie “beet-er” vir jou wees nie. Jou smaakknoppies kan dit dalk haat, maar jou are sal mal wees daaroor omdat dit so hoog is in nitrate (wat in nitriete omgeskakel word deur die bakterieë in jou mond). Nitriete help jou are vergroot, wat bloedvloei en suurstofopname verbeter. Om hierdie rede word beet beskou as een van die antwoorde op medikasievrye behandeling van bloeddruk. Boonop is dit propvol kalium, anti-oksidante en oplosbare vesel, wat alles saamwerk om hartkwale te bestry.

Bestanddele:

  • 500 g vryloop-beesfilet, al die senings afgesny
  • 1 t varsgemaalde sout
  • 1 t varsgemaalde peper
  • 3 of 4 knoffelhuisies
  • 50 ml olyfolie
  • 250 ml room
  • 2 e gekapte grasuie

Vir die slaai

  • 30  wilderoket
  • 2 lemoene, geskil en gesny
  • 100 g klaar voorbereide beet, geskil en in kwarte gesny
  • 50 g feta
  • 20 g uiespruite
  • 2 e gekapte vars kruisement

Vir die slaaisous

  • 2 lemoene se sap
  • 25 ml rysasyn
  • 50 ml olyfolie
  • varsgemaalde sout en peper

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
  2. Verhit ʼn groot pan, gooi olyfolie oor die filet en geur met sout en peper.
  3. Braai die filet bruin aan al die kante en plaas in die oond vir nog 20 minute of tot dit so gaar is soos jy daarvan hou.
  4. Terwyl die filet in die oond is, braai die knoffelhuisies in ʼn klein pannetjie met 50 ml olyfolie tot dit goudbruin is.
  5. Kook die room in ʼn ander klein kastrolletjie af tot dit met die helfte verminder het. As dit wil oorkook, klits dit net effens. Voeg die knoffelhuisies by die room terwyl dit afkook. Voeg die grasuie by die room.

Vir die slaaisous:

  1. Meng die lemoensap, asyn en olyfolie in ʼn klein bakkie en geur met sout en peper.

Vir die slaai:

  1. Pak die roket uit op ʼn mooi opdienbord, gevolg deur die lemoene, beet, gekrummelde feta, slaaisous, uiespruite en kruisement.
  2. Haal die filet uit die oond en wag ʼn paar minute voordat jy dit opsny. Bedien die knoffelroomsous oor die gesnyde beesfilet.

Bron: Jou beste lewe – Vinnige en gesonde gesinsetes
Uitgewer: CUM

Resep: Braaihoender met sitrus en kruie

$
0
0
Braaihoender-met-sitrus-en-kruie

Foto: Lekker en Vinnig

Kyk net hoe lekker lyk dié gereg!

(Uit: Trooskos, Clover SA)
Lewer 4-6 porsies

Bestanddele:

  • 60 g sagte botter
  • sap en skil van 1 suurlemoen
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 hoender (± 2,3 kg)
  • 1 lemoen, gehalveer
  • 2 takkies suurlemoentiemie
  • 1 takkie roosmaryn
  • 30 ml botter, gesmelt

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 190 °C.
  2. Meng die botter, sap en skil van die suurlemoen saam en geur met sout en peper. Droog die hoender goed met kombuispapier af.
  3. Maak die hoendervel oor die borsgedeelte los van die vleis en smeer die bottermengsel onder die vel.
  4. Plaas die hoender in ʼn oondbraaipot en geur binne die maagholte met sout en peper.
  5. 5. Druk die lemoenhelftes en die kruie binne-in die holte.
  6. Verf die hoender met gesmelte botter en geur met sout en peper.
  7. Oondbraai die hoender in die middel van die oond vir 1 ½ tot 1 ¾ uur. Toets vir gaarheid deur die dikste deel van die dy met ʼn ysterpen te steek. lndien die sappe helderkleurig is, is die hoender gaar.
  8. Laat die hoender 10 minute lank rus voordat dit gesny word.

Bron: Vinnig en Lekker – Hoender
Uitgewer: Lapa

Resep: Geroosterde hoender-en-sampioenlasagne

$
0
0
Lasagne

Foto: Leserskring Spogresepte

’n Maklike lasagne, gepak met groente en geur, vir ’n lui Sondagmiddag.

Ingestuur deur Catherine Riggien, Prestbury

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele:

Sous

  • 400-500 g knopiesampioene, gesny
  • 10 ml fyngedrukte knoffel
  • 25 ml kookolie
  • 125 ml mielieblom
  • 2 liter melk
  • sout na smaak
  • 15 ml heelkorrelmosterd

Vulsel

  • 250 g murgpampoentjies, gesny en gestoom
  • 250 g vlapampoentjies, gesny en gestoom
  • 4 wortels, gerasper en gestoom
  • 500 g bevrore geroomde spinasie, ontdooi
  • 2 boksies (250 g elk) spinasie- of gewone lasagnevelle
  • 1 groot geroosterde hoender, ontbeen en in klein stukkies gesny
  • 250 g patats, in blokkies gesny en gestoom
  • 250 g botterskorsies, in blokkies gesny en gestoom
  • 500 ml gerasperde cheddarkaas

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180  ̊̊C.

Sous

  1. Soteer die sampioene en knoffel in die olie. Meng die mielieblom met ’n bietjie melk. Sit eenkant.
  2. Voeg die res van die melk, sout en mosterd by die sampioene.
  3. Giet die mielieblommengsel by en roer aanhoudend. Kook tot dik en romerig.

Vulsel

  1. Plaas die murgpampoentjies, vlapampoentjies en wortels op die boom van ’n groot, gesmeerde oondvaste bakskottel.
  2. Bedek die groente met die spinasie en ’n derde van die sampioensous. Bedek met ’n laag lasagnevelle.
  3. Plaas die hoender bo-op die lasagnevelle saam met die gestoomde patats en botterskorsie.
  4. Bedek met ’n derde van die sampioensous en nog ’n laag lasagnevelle.
  5. Rond af met die res van die sous en gerasperde kaas.
  6. Bak vir 25-30 minute of tot die pasta gaar is en die kaas begin borrel.

Bron: Leserskring spogresepte
Uitgewer: Human & Rousseau


[Resep] Herderspastei met groente

$
0
0
herderspastei-met-groente

Dié herderspastei met groente is ‘n slim manier om te sorg dat die familie groente eet. Foto: Leserskring spogresepte

Catherine Riggien, Prestbury

Lewer 6-8 porsies

Hierdie resep is ’n wonderlike manier om baie groente stilletjies by ’n geurige maaltyd in te sluit. Die hoeveelhede wat hier verskaf word, is genoeg vir ’n gesin, maar jy kan ook die pastei in kleiner individuele houers verdeel.

Bestanddele:

  • 2 botterskorsies, geskil en gekap
  • 500 g groenbone, gesny
  • 6 aartappels, geskil en gekap
  • 30 ml botter of margarien
  • sout en peper
  • olie om te braai
  • 1 groot ui, gekap
  • 2 wortels, geskil en gerasper
  • 4 murgpampoentjies, gerasper
  • 205 g dwergsampioene, gesny
  • 10 ml fyngedrukte knoffel
  • 500 g beesmaalvleis
  • 10 ml gemengde kruie
  • 25 ml worcestersous
  • 25 ml vrugteblatjang
  • 2 blikke (410 g) gekapte tamaties
  • 1 pakkie (60 g) bruinuiesoppoeier
  • knippie paprika
  • 250 ml cheddarkaas

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 ˚C.
  2. Stoom die botterskorsies tot sag. Verwerk met ’n handmenger tot glad. Voeg ’n bietjie sout by. Sit eenkant.
  3. Kook die gekapte groenbone en aartappels in ’n bietjie water tot sag. Voeg die botter by en maak fyn. Voeg sout en peper na smaak by. Sit eenkant.
  4. Giet die olie in ’n pan en soteer die ui, wortels, murgpampoentjies, sampioene en knoffel liggies.
  5. Haal uit die pan. Plaas die maalvleis in die pan, voeg ’n bietjie sout en die gemengde kruie by en braai tot bruin. Voeg die gesoteerde groente by die maalvleis. Voeg die worcestersous, blatjang en tamaties by.
  6. Kook teen medium hitte vir 15 minute tot die tamatiesap begin wegkook. Voeg die soppoeier by om die maalvleis te verdik en kook vir 5-10 minute. Voeg nog sout en peper by, indien verkies.
  7. Skep die maalvleis in ’n groot, oondvaste skottel. Skep die botterskorsie op die maalvleis en die fyngedrukte groenbone bo-oor. Sprinkel paprika oor en strooi die gerasperde kaas bo-oor. Bak tot goudbruin.

Bron: Leserskring spogresepte
Uitgewer: Human & Rousseau

[Resep] Dunliesrol met vrugtevulsel

$
0
0
Dunliesrol

Foto: Wenresepte 2

Dit lyk na ʼn duur gereg om te berei, maar eintlik is dit nie. As jy Ius is om op ʼn Sondag iets lekkers vir jou mense te maak, kan jy gerus dié rol oorweeg. Onthou net om die droëvrugte die vorige aand in die lemoensap te plaas sodat dit oornag kan week. Hou in gedagte dat die rol taamlik ryk is wanneer jy bykos beplan om voor te sit. Die kookwater in die resep kan deur dieselfde hoeveelheid witwyn en beesaftreksel, om die helfte gemeng, vervang word.

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele:

Vrugtevulsel

  • 75 g (125 ml) droë appelkose, gekap
  • 6 droë appelringe, gekap
  • 250 ml versoete lemoensap
  • 1 ui, fyngekap
  • 25 g (30 ml) botter of margarien
  • 75 g (125 ml) gaar rys
  • 5 ml sout
  • 2 ml koljander
  • 2 ml gemmer
  • 1 ml suurlemoenpeper
  • gerasperde skil van 1 suurlemoen

Dunliesrol

  • 1 stuk beesdunlies van sowat 30 x 20 cm
  • 10 ml sout
  • 2 ml peper
  • sonneblomolie
  • 300 ml kookwater

Metode:

  1. Week die gekapte appelkose en appelringe oornag in die lemoensap.
  2. Braai die volgende dag die ui in die botter of margarien tot sag. Voeg die geweekte vrugte, rys, sout, koljander, gemmer, suurlemoenpeper en suurlemoenskil by en meng.
  3. Vee die vleis met ʼn klam lap af en geur dit met die sout en peper. Smeer die vrugtevuIsel oor. Rol die vleis en vuIsel soos ʼn rolkoek op en bind die rol elke 5 cm styf met tou vas.
  4. Braai die rol aan weerskante in ʼn bietjie olie in ʼn swaarboomkastrol tot mooi bruin.
  5. Voeg die kookwater by, sit die deksel op en stowe die rol 1 uur lank of tot die vleis sag is. Voeg nog kookwater by indien nodig. Sit dit warm voor.

Bron: Huisgenoot Wenresepte 2
Uitgewer: Human & Rousseau

[Resep] Brodedelle

$
0
0
Brodedelle

Foto: Wenresepte 2

Reline du Toit van Durbanville sê haar kroos smul behoorlik as sy hierdie sappige frikkadelle voorsit mel rys en groenertjies. Die frikkadelle smaak glad nie na maalvleis wat met brood gerek is nie.

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele:

  • 6 snye volkoringbrood
  • 500 ml water
  • 500 g beesmaalvleis
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 tamatie, fyngekap
  • 30 ml blatjang
  • 15 ml worcestersous
  • 7 ml sout
  • knippie peper
  • 10 ml souspoeier

Metode:

  1. Week die brood in 250 ml van die water en druk dit met ʼn vurk fyn.
  2. Voeg die maalvleis, ui, tamatie, blatjang, worcestersous, sout en peper by en meng liggies met ʼn groot vurk.
  3. Maak groterige frikkadelle van die mengsel en plaas in ʼn vlak oondvaste bak met ʼn volume van sowat 2,5 liter.
  4. Meng die oorblywende 250 ml water en die souspoeier en giet dit oor die frikkadelle.
  5. Bak die frikkadelle vir 1 uur lank op die middelste oondrak by 180’C (350 ‘F). (Die oond hoef nie vooraf verhit te word nie.)

Bron: Wenresepte 2
Uitgewer: Human & Rousseau

[Resep] Sosatietjops

$
0
0
Sosatietjops

Foto: Nina se kombuis

Hierdie resep verg nie ure se marineer nie en deur die tjops in plaas van die boud te gebruik, spaar jy darem die boudvleis vir Sondag se middagmaaltyd!

Lewer 8 sosaties

Bestanddele:

Vir die marinade

  • 80 ml kookolie
  • 2 groot uie, geskil en fyngekap
  • 2-3 knoffelhuisies, geskil en fyngekap
  • 45 ml kerriepoeier, sterkte na gelang van smaak
  • 5 ml borrie
  • 5 ml fyn gemmer
  • 5 ml fyn koljander
  • 2,5 ml fyn naeltjies
  • 100 ml suiker
  • 100 ml asyn
  • 80 ml fyn appelkooskonfyt of 50 ml gouestroop
  • sout en peper na smaak

Vir die sosatie

  • 8 lamslendetjops
  • 8 bamboesstokkies of metaalsosatiestokkies
  • 2 groot uie, geskil en in kwarte gesny
  • 16 droë Turkse appelkose (koop by enige droëvrugtewinkel)

Metode:

Vir die marinade

  1. Verhit die olie en braai die uie en knoffel tot sag.
  2. Voeg al die ander bestanddele by en kook sowat 5 minute lank. Laat heeltemal afkoel.
  3. Geur die tjops met sout en peper.
  4. Giet die afgekoelde marinade in ’n lugdigte houer en plaas die tjops in die marinade.
  5. Plaas in die yskas en marineer vir sowat 15 minute.

Vir die sosatie

  1. Ryg 1 tjop per sosatiestokkie met ’n stukkie van die rou uie en ’n gedroogde appelkoos aan weerskante.
  2. Braai op die kole tot so gaar soos jy daarvan hou. Bedruip met die marinade terwyl dit braai.
  3. Sit voor met ’n lekker piesang-en-jogurtslaai.

Bron: Maklike Maaltye uit Nina se kombuis
Uitgewer: Random House Struik

[Resep] Blatjanghoender met rysvulsel en skyfaartappels

$
0
0
hoender

Foto: Wenresepte 2

’n Mens kan die hoender die vorige dag kant en klaar berei en ’n uur lank in die sous bak. Skep die hoender uit die sous, laat die hoender en sous afkoel en plaas dit dan in die yskas tot die volgende dag. Dis ’n feestelike maar besonder ekonomiese gereg.

Lewer 4-6 porsies

Bestanddele:

Blatjanghoender

  • 1 groot hoender van sowat 1,7 kg
  • sout en peper na smaak
  • 1 pakkie (50 g) wit- of bruinuiesoppoeier
  • 250 ml kookwater
  • 250 ml vrugteblatjang
  • 125 ml mayonnaise

Rysvulsel

  •  1 hoenderlewertjie, fyngesny
  • 1 klein ui, fyngekap
  • 200 g (250 ml) gaar rys
  • 30 g (125 ml) sagte witbroodkrummels
  • 25 ml fyngekapte pietersielie
  • 75 g (125 ml) pitlose rosyne
  • 25 g (30 ml) botter of margarien, gesmelt
  • sout en peper na smaak

Skyfaartappels

  • 6-8 middelslagaartappels
  • sout en peper na smaak

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C (350  ̊F).
  2. Maak die hoender goed skoon en sny die vetklier op die stuitjie uit. (Skroei die fyn haartjies aan die hoender oor ’n brandspiritusvlam af.) Was die hoender en droog dit af. Vryf dit binne en buite in met sout en peper.
  3. Meng die soppoeier en kookwater. Voeg die blatjang en mayonnaise by en meng. Giet die sous in ’n groot oondvaste bak met ’n deksel.
  4. Meng die hoenderlewertjie en ui met die rys, broodkrummels, pietersielie, rosyne, botter of margarien en sout en peper.
  5. Plaas die hoender op sy rug en skep die helfte van die rysvulsel in die liggaamsholte. Steek die opening met ʼn peuselstokkie vas en bind die bene met ’n stukkie tou aan die stuitjie vas.
  6. Skep die res van die rysvulsel in die nekholte en vou die nekvel daaroor toe. Steek dit aan die rug met peuselstokkies vas. (Moenie te styf toevou nie, want as die vulsel nie genoeg ruimte het om uit te sit nie, word dit kluitjierig.)
  7. Plaas die vlerke langs die lyf en bind dit met ’n stuk tou om die lyf vas. Plaas die hoender op sy rug in die blatjangsous en skep van die sous oor tot die hoender daarmee bedek is. Sit die deksel op en bak dit 1 uur lank. Bedruip die hoender af en toe met van die blatjangsous waarin dit bak.
  8. Giet die meeste van die sous ná 1 uur in ’n afsonderlike oondvaste bak af en plaas die aartappels hierin. Was die aartappels silwerskoon af, maar moenie hulle skil nie. Sny elke aartappel in 1 cm-skywe, maar moenie die skywe deursny tot onder nie; die aartappel moet aan die onderkant heel bly. Trek die skywe effens uitmekaar en strooi ’n bietjie sout en peper tussenin.
  9. Bak die hoender nog 1 uur lank sonder ’n deksel. Bak terselfdertyd ook die aartappels 1 uur lank sonder ʼn deksel. Bedruip die hoender en aartappels gereeld met van die blatjangsous.
  10. Giet die sous in ’n souspot. Sit die hoender warm voor saam met die sous.

Bron: Wenresepte 2
Uitgewer: Human & Rousseau

Viewing all 162 articles
Browse latest View live