
Ouma Bekkie se bacon-pie (Foto: Verskaf)
“Hierdie resep is jare terug uit halwe armoede gebore. Dit was al bestanddele wat my ma op daardie oomblik in die huis gehad het. Ons het op die myn buite Orkney gebly en my ma het toe nog nie ’n bestuurderslisensie gehad nie. Van toe af is dit ’n gunsteling in die hele familie.” Só skryf Maroela-leser Denise Lodder.
Bestanddele:
- 1 pak (500 g) macaroni
- 2 pakke (250 g elk) spek
- 3 tamaties, dun gesny
- 250 g Cheddarkaas, gerasper
- 2 uie, gekap
- Sout
- 7 eiers, geklits
Metode:
- Braai spek en uie saam, en kook macaroni apart.
- Meng die macaroni en spekgebraai en gooi die helfte in ʼn oondbak.
- Pak ʼn laag tamaties dun bo-op die spek-en-macaroni-mengsel.
- Gooi die res van die macaroni-mengsel in die bak en pak weer ’n laag tamatieskyfies bo-op.
- Strooi kaas lekker dik bo-op en gooi eiermengsel oor.
- Bak in oond by 180 °C totdat die eier gestol het.
- Verwyder uit oond en bedien met lekker slaai van jou keuse. Geniet dit!
Variasie: Indien jy nie hou van eiers nie, kan lekker witsous of speksous bo-oor gegooi word.
Stuur vir ons jóú familieresep hier.