Hierdie resep sal vleisliefhebbers opgewonde maak – en boonop is dit maklik ook!
Lewer 6 porsies
Bestanddele:
- 15 ml olie
- 2 knoffelhuisies, gekneus
- 2 uie, in ringe gesny
- 10 ml suiker
- 1 kg skaapvleis-dunrib of -boud, in stukkies gesny
- 4-6 kruienaeltjies
- 4-6 wonderpeperkorrels
- 2 lourierblare
- sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- knippie vars fyngerasperde of fyn neutmuskaat
- 250 ml kookwater
- 20-30 ml tamaryn
Metode:
- Verhit die olie in ʼn swaarboomkastrol.
- Voeg die knoffel en uie daarby.
- Strooi die suiker oor en smoor dit tot die uie goudkleurig is.
- Skep dit uit en plaas die vleis in die kastrol. Braai tot dit begin verkleur.
- Voeg nou die kruienaeltjies, wonderpeperkorrels, lourierblare, sout, peper en neutmuskaat by die vleis en skep die uie en knoffel terug in die pot. Voeg 125 ml van die water by. Sit die deksel op en stowe die vleis tot sag. Dit neem ± 1-1½ uur.
- Week intussen die tamaryn in die orige 125 ml water. Syg deur ʼn fyn sif en voeg die water by die vleis. Laat weer ʼn rukkie stowe om die geure goed te laat meng.
- Sit dit voor met rys of gekookte aartappels.
Resep oorspronklik gepubliseer in Eet saam, GKSA.
Bron: Lekker en Vinnig – Tradisionele kos
Uitgewer: Lapa